Die vrug met nege dele
Die vrug is soos ‘n lemoen met ‘n klomp segmente binne-in. Elke skyfie is soos een van die aspekte van die vrug van die Gees. Daar is nie nege verskillende vrugte nie — dit is ‘n vrug wat uit nege dele bestaan.
Om die vrug van die Gees egter beter te verstaan, moet ons eers na die vyf verse kyk wat hierdie gedeelte voorafgaan. In daardie verse bespreek Paulus ‘n ander soort vrug. Hierdie vrug word deur die vlees voortgebring— selfbehepte menslike begeertes wat ons van God af wegtrek — en bestaan uit dade soos seksuele sonde, onreinheid, afgodery, haat, jaloesie, woede, selfsugtige ambisie en dronkenskap.
Galasiërs 5:17 sê: “Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer.” Jy kan óf deur die vlees óf deur die Gees van God gelei word, maar nie deur altwee nie.
Wanneer die vrug van die Gees in ons lewens sigbaar is, is dit ‘n teken, of die gevolg, dat ons deur die Gees van God gelei word.
Hierdie vrug moet nie verwar word met die geestelike gawes waarvan die Bybel melding maak nie. Gawes soos leierskap, wysheid, herderskap, bemoediging, kennis en profesie, word deur die Gees gegee met die doel om die gelowiges op te bou. Geestelike gawes is belangrik, maar mense kan in der waarheid daardie gawes gebruik en terselfdertyd die vlees bevredig.
Die vrug word egter deur God voortgebring en in ons ontwikkel en vertoon net as ons onsself aan sy Gees onderwerp. Net soos takke aan ‘n boom moet vas wees om vrugte te dra, is die vrug van die Gees die bewys dat ons aan Christus verbind is. Dit is die teken van ‘n veranderde lewe wat net kan plaasvind deur middel van die krag van God.
En die beste deel hiervan? Daar is “geen wet wat dit verbied nie”. Met ander woorde, ons kan die vrug vertoon sonder enige perke of beperkinge. Ons sal nooit in die moeilikheid beland as ons te veel liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing toon nie. Wanneer ons gedurig die vrug van die Gees vertoon, begin ons anders lyk — en so ook die omstandighede en mense wat deur ons beïnvloed word.